Skip to content Skip to footer

Strooidak & Williston Fees

Geskiedenis

Ons vier vanjaar (2013) die 10de bestaan van die Williston-Paarl basaar. Met die deuryk van die korrespondensie van daardie eerste basaarbeplanning van 2004 het ek weer diep onder die indruk gekom van wat die Here in die middel van ons en die Strooidakgemeente laat plaasvind het.

Ds. Jooste skryf in ’n brief in 2004 aan die Paarliete: “Ons het lank voor 8 en 9 Oktober geweet dat die beplanning en bestuur van die naweek glad nie meer in ons hande was nie. Hoe groter en meer onmeetbaar die risiko’s, wat ons in die gesig gestaar het, hoe meer het ons beleef dat God voorsien”.

Hierdie seën wat ons twee gemeentes te beurt geval het, is gebore in ’n tyd toe ons die werklikheid, wat talle plattelandse gemeentes in die oë staar moes hanteer. Dit is die werklikheid van finansiële ondergang weens ontvolking, veroudering van lidmate en die gereelde natuurrampe. Ons het besef dat ons wel baie gewillige hande hier in Williston het, maar ’n nypende tekort aan voete. Ons koppe het dus begin dwaal, opsoek na voete: Ons het begin dink aan selfs ’n boeredans daar in die Kaap. Gelukkig maak die Here toe ons oë oop vir wat ons nog het (behalwe gewillige hande): ’n stukkie van die Karoo met sy besondere vleisgeregte en lekker kuiergewoontes.

Uit vroeëre ervaring het ons onthou hoe Welgemoed gemeente vir Kraaifontein-Noord die geleentheid jaarliks gebied het om hul basaar in Welgemoed te kom hou, waar nie net voete nie, maar ook geld was. So ons het aanvanklik gedink ons moet probeer samewerk met gemeentes of skole waar daar geld is. Gelukkig het die Here geweet om ’n gemeente vir ons oop te maak wat self voor ernstige besluite gestaan het rondom finansies: Paarl Strooidak gemeente het die predikante gehad wat hul haast nie meer almal kon…